God dink aan jou

Daar kom seisoene in ’n mens se lewe wanneer niks reg wil werk nie. Ek sit die afgelope tyd vreeslik baie ure per dag in om my nuwe boek uit te lê. Dis ’n nuwe program wat ek moet leer, maar so met die gestoei, tel ek die werking op en dit vorder flink.

Totdat die program die heeltyd uitbom. Ek het alles probeer, maar ek hardloop keer op keer in ’n muur vas. Ek raak erg mismoedig.

Daar kom nog onweerswolke op. Dis einde van die maand en dan wonder ’n mens mos altyd of die dinge mooi gaan loop. ’n Swaarmoedigheid pak my.

Ek ’n kry ’n lang artikel wat vertel waarheen ons land op pad is en ek voel nie nou meer so lekker nie. Dis asof alles net te veel raak en my bene begin bewe van die swaar las.

Ek spiraal tot onder in die gat en vang myself die vraag vra: Is alles die moeite werd? Hoekom aankarring? En die netto effek is dat my selfbeeld ook soek is.

Dit gebeur die een of ander tyd in ons almal se lewens. Een of ander tyd gaan ons deur ’n seisoen waar ons wonder wat ons hier maak en op ’n hopie gaan sit omdat ons nie eintlik enige waarde het nie.

Op ’n manier roep ’n mens dan saam met die psalmdigter uit: 6… “Wat is daar in ’n mens dat U hoegenaamd nog aandag gee aan hom? Is ’n mens die moeite werd dat U so vir hom sorg?

Here, weet U hoeveel het ek al drooggemaak? Here, ek kan nie eens die druk wat in my wêreldjie is, hanteer nie. Hoekom sal U dan aan so ’n sukkelende siel dink? Wat maak dit dat U nie U rug op my draai nie?

En hier kom die onverstaanbaarheid van God in. In plaas van Sy rug op ons draai. In plaas van ons wat yskoud is, uitspoeg en dooddruk soos miere, staan Hy met Sy arms wawyd oop na ons.

Hy dink nie net aan ons nie. Hy gee aandag. Hy gee om. Hy doen en ten koste van Sy eie Seun, red Hy ons uit die verderf. Hy herstel ons plek in die hemel en ons kom net-net onder die engele in.

Ons God is so groot. Hy loop so oor van liefde. Hoe kan ek dan nog hier in die gat bly sit? Ek het te veel waarde om toe te laat dat die omstandighede waarin ek sit, my vreugde en vrede steel.

Al swoeg en sweet ons soms hier op die aarde, moet ons altyd bly opkyk, want by God weet ons, is ons geliefd. Al maak dit nie sin nie, sal Hy ons nooit laat los nie. Hy sal ons krag gee om deur die seer en die swaar te sleep. Hy sal ons arms omhoog hou. Hy sal ons wysheid gee om deur die mis te sien.

Nou kan ek weer die lewe vierkantig in die oë kyk, want God is veel groter as die grootste swaar wat my kan tref. Hy dink so baie van my …

Teks
Hebreërs 2:5-10
https://www.bible.com/en-GB/bible/50/HEB.2.5-10.DB

Dink bietjie hieroor
Hoe lyk die omstandighede om jou?
Hoe voel jy oor jouself?
Hoe sien God jou?

Gebed
Vader, dankie dat U aan my dink. Dankie dat U werke en U liefde elke dag oor my kom uitstort. Ek sien weer kans, net omdat ek weet U is aan my kant. Amen.

Shalom

Gerjo Ben

Ns. Jy is welkom om ’n gebedsversoek te stuur en Kruispad se gebedsspan sal vir jou intree.